" Voorspel " deur MARLISE JOUBERT [boodskap #56219] |
So, 27 Januarie 2002 17:25 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
Voorspel
Marlise Joubert
Terwyl die jaar dof begin
en dagbreek grys oor dakke sleep
terwyl die see haar silwer heupe skud
geboortes gee en sterf
terwyl my vriende uit 'n vormlose nag
sirkels lag en hoeke huil
soos bekke van diere die pyn oopruk
en die lieflike flanke
van somer afskeur
terwyl die snawels van voëls
los reis en wit
is my dag pasgebore
en gewier in sand
my bruin begin warm en nakend
my mond wat bloei donker see-anemoon
terwyl die mossels ewig slaap
met swart boggels teen die son
gekeer
|
|
|